Die nuwe jaar is aan die gang. Dalk nog nie volstoom vir almal nie, maar na ‘n week se luier by die werk begin dit nou insink dat die laaaang somer vakansie nou gekom en gegaan het. En nou staan ons natuurlik op daardie bekende plekkie tussen twee berge – Laasjaar aan die een kant, en Nuwejaar aan die ander.
Dit tref my toe ek die dagboek-ritueel aanpak. Klein persoonlike plesiertjie wat in my gene oorgedra is – Laasjaar word eers afgesluit as sy dagboek mooi netjies oorgedra is in Nuwejaar s’n. Belangrike gebeure word gemerk om te onthou vir die toekoms, verjaarsdae en vakansiedae mooi gemerk, en potensiële verlof vertoon soos vastrapplek teen die berg van Nuwejaar. Ek loer so na my “voornemens” van laasjaar – Blog elke week, reël ‘n reunie, voltooi my Meesters…dit het natuurlik saam met die gesond eet en gereeld oefen, nie gerealiseer nie.
Dit is ‘n holrug-debat, die een van Nuwejaars-voornemens. Party mense glo dat jy nie ‘n jaar aanpak sonder sulke persoonlike doelwitte nie, ander het besef dat dit ‘n hopelose taak is wat nooit deurgevoer word nie en dat die teleurstelling van “faal” in die voorneme nie dit werd is nie. Ek het nie werklik ‘n opinie daaroor nie – nie genoeg om in ‘n debat betrokke te raak nie. Dit is seker maar ‘n saak van persoonlike voorkeur, soos meeste goed in die lewe.
Ek is ‘n lysie mens, ‘n doelwit mens, ‘n voorneme-mens. Ek het nodig om vir my bakens te stel vir my tog oor die berg Nuwejaar. Dit het te doen met wat ek wil bereik in my jaar – wat ek nodig het om “op die kruin” te voel.
Met Laasjaar wat donkerder word in die skaduwee van verlede, probeer ek vir oulaas kyk wat ek kan leer daaruit. Waar het ek van die voetpad afgedwaal, en hoekom is daar plek-plek gly-merke teen die hange af.
Ek lig my kop op, vou my dagboek toe en skuif my rugsakkie reg. Nuwejaar lê voor, en my bakens is geplant. My stewels is vars en my waterbottel vol. Hierdie berg kan ek oor! Met familie en vriende en God, met liefde en ondersteuning en leiding, met foto’s en musiek en lag.
Mag julle berge klein wees, en julle bakens vas staan. Mag julle voete vastrap en julle maklik loop. Mag jy die kruin bereik van JOU jaar, en mag jy die krag kry wat jy nodig het vir jou berg.